Woensdag 17 Augustus 2005 bl. 1
Beeld
Snuffelgids
Beroepe


Sien spelfoute self na

Afrikaanse speltoetser op die internet beskikbaar

Hoekom sal iemand al die moeite doen om 'n Afrikaanse aanlyn-speltoetser te ontwikkel en dit dan gratis op die internet beskikbaar stel?

Vir Tiaan Geldenhuys, 'n nagraadse bio-ingenieurstudent aan die Universiteit van Pretoria was al dié harde werk net 'n projek waarmee hy vir homself 'n webwerf in die kuberruim wou vestig.

Natuurlik het sy ingenieursagtergrond, en die feit dat hy as programmatuuringenieur by Intel in Amerika gewerk het, hom goed te pas gekom met die skep van die databasis. En natuurlik sou hy dit ook nie sonder die Afrikaanse woordeboek van www.translate.org.net - wat gratis, oop bron programmatuur ontwikkel - kon doen nie.

Tiaan het aan die idee vir 'n speltoetser gekom terwyl hy besig was om aan 'n Afrikaanse resepteboek te werk. Hoewel die resepteboek 'n familieprojek is, sê hy, het hy bietjie gesukkel met die Afrikaanse spelling. Dis tóé dat hy besef het dit sal lekker wees om 'n gratis aanlyn-speltoetser te hê.

Die toetser se databasis beskik tans oor ongeveer 170 000 woorde.

Tiaan sê as translate.org.net sy woordeboek vergroot, sal hy die databasis kan uitbrei.

"Dit is veral nuttig om eenvoudiger woorde met spelfoute uit te wys, dié wat tipies verkeerd gespel word deur blote tikfoute. Afrikaans het 'n groot aantal samestellings en verbuigings wat nie so goed deur dié speltoetser gehanteer word nie. Ek voel tog opgewonde oor dié speltoetser en dink dit kan nuttig wees, veral vir dié wat nie toegang het tot ander opsies nie," skryf hy.

Besoek die toetser by tiaan.com/af/webapp/spellchecker.